Volksblad 16Aug2008
KURUMAN. – Haar naam was Lila. Lila Claassen.
Eintlik Christina Alida, maar die familie het haar Lila genoem.
Lila het nie ’n lang lewe gehad nie. Op agtjarige ouderdom is haar jong lewe wreed beëindig toe sy in 1924 een van die slagoffers van die bomongeluk op die wapenskou op Kuruman was.
Dit is dié bomongeluk waarin mev. Sarie Bothma van Bloemfontein, toe ’n baba, se lewe deur haar pa, mnr. Abraham Erasmus, gered is toe hy op haar gelê het toe die bom ontplof (Volksblad, Saterdag 9 Augustus).
Haar familie weet nie veel van Lila nie, ook nie wat daardie dag gebeur het nie. Lila se jonger sussie, Hester Hendrina, toe vyf jaar oud, het oor die jare heen nie veel gepraat oor daardie dag nie.
Hul ander suster, Tiny, het ternouernood aan die dood ontkom. Minute voordat die bom ontplof het, het sy en Lila saam gespeel. ’n Vrou het Tiny gestuur om gou iets te gaan haal. In die tydjie wat sy weg is, het die bom ontplof – daar waar sy en Lila gespeel het.
Mev. Janetta Erasmus, een van Hester se dogters wat nou op Jan Kempdorp woon, sê sy het haar ma net een keer oor die voorval gehoor huil en praat. Dit was toe iemand haar daaroor uitgevra het.
Maar andersins wou sy nooit daaroor praat nie. “Dit was vir haar ’n baie teer puntjie. Sy het dit vir haarself gehou.”
Erasmus is nie seker of haar ma daardie dag self daar was nie.
Lila en wat alles daardie dag gebeur het, het onduidelik gebly. En die familie het maar altyd gewonder oor dié familielid wat so gewelddadig van hulle weggeruk is.
Haar naam het egter in die familie voortgeleef. Hester se oudste dogter, nou op Brits, dra haar naam. Dit was ook Lila se ma se naam.
“Twee van my susters, Hannetjie Bateson en Tillie van Reche, lyk ook baie na haar,” sê Erasmus.
Waar Lila begrawe is, is nie seker nie. Dit is vermoedelik in die ou begraafplaas op Kuruman, waar drie van die ander slagoffers ook begrawe is.
In dié begraafplaas is daar verskeie kindergraffies, maar sommige is bloot hopies grond, terwyl ander só beskadig en verweer is dat die grafskrifte op die stene nie meer gelees kan word nie.
Lila se pa, Matthys Jacobus, is deur skrapnel getref, en was gevolglik ’n invalide. Dit is daarom moontlik dat hy nooit vir Lila ’n behoorlike graffie kon gee nie, sê Erasmus.
Hy was ook nooit weer dieselfde ná die voorval nie, sê sy.
Al herinnering van Lila wat vir die familie oorgebly het, is ’n foto.
Erasmus sê die berigte wat nou oor die voorval in Volksblad en Kontrei verskyn het, beteken vir die familie baie. “Dit het ons susters herenig.”
Erasmus beplan nou om ’n plakboek oor die voorval te maak.
Bookmarks